KERKJAAR

Prof Natie van Wyk skryf oor die regverdigingsleer as die hart van die Reformasie. 31 Oktober 1517 word algemeen beskou as die geboortedatum van die Reformasie van die 16de eeu. Op hierdie dag het Martin Luther sy 95 stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgekap. Jaarliks, op die Sondag naaste aan hierdie datum, herdenk die Protestantisme die Kerkhervorming.

 

Maar wat moet ons nou eintlik gedenk? Wat het Luther, Melanchthon, Zwingli en Calvyn teologies ontdek wat vir ons vandag nog van uiterste belang is? Dit is maklik om te antwoord: Die boodskap oor die regverdiging deur die geloof (Rom 3: 21-24 en Gal 3: 1-5).

 

Eietyds gesê: As mense wat deur die geloof tot gerespekteerde persone gemaak word, as mense wat dus nie op grond van hul sosiale projekte respek wil afdwing nie, word ons bevry om daagliks opnuut te soek na die menslik aanvaarbare, sonder dat ons totale menswees daarvan sou afhang. Daarmee wil ons saam met Luther sê dat ons menswees nie afhang van die positiewe oordele van ander oor ons strewe na selfverwesenliking nie, maar dat ons steun op God se finale oordeel wat genadig en barmhartig is. Ons kan nie staatmaak op die positiewe oordele van ander nie, aangesien ons as mense faal en misluk. Mense gaan nie ons verkeerde dinge goedpraat nie. Om hierdie rede moet ons altyd weer van vooraf begin om te soek na die regte en die goeie. Gelowiges kan dit juis doen aangesien ons uit dankbaarheid lewe. Die dankbaarheid vir die verlossing van futiele pogings tot selfverwesenliking en die afdwing van goeie woorde deur ander, stel ons in staat om opnuut, daagliks, te gaan dink wat reg en goed sou kon beteken.

 

Hoe is dit moontlik om in hierdie wêreld (en veral in hierdie land) liefde te beoefen? Christene is vry om liefde te beoefen, aangesien die oorsprong van hul moraal in die geskenkte vryheid van die geloof lê. Wat aan ons verkondig word, naamlik die belofte van regverdigverklaring, stel ons vry om goed en reg in hierdie wêreld te handel. Goed en reg mond volgens Calvyn uit in menslikheid en billikheid teenoor ander omdat ons in hulle met die (verwronge) beeld van God te make het.