|
Prof
Natie van Wyk
skryf
oor die regverdigingsleer as die hart van die Reformasie.
31 Oktober 1517 word algemeen beskou as die geboortedatum van die
Reformasie van die 16de eeu. Op hierdie dag het Martin Luther sy 95
stellings teen die kerkdeur van Wittenberg vasgekap. Jaarliks, op
die Sondag naaste aan hierdie datum, herdenk die Protestantisme die
Kerkhervorming.
Maar wat
moet ons nou eintlik gedenk? Wat het Luther, Melanchthon, Zwingli en
Calvyn teologies ontdek wat vir ons vandag nog van uiterste belang
is? Dit is maklik om te antwoord: Die boodskap oor die regverdiging
deur die geloof (Rom 3: 21-24 en Gal 3: 1-5).
Eietyds
gesê: As mense wat deur die geloof tot gerespekteerde persone gemaak
word, as mense wat dus nie op grond van hul sosiale projekte respek
wil afdwing nie, word ons bevry om daagliks opnuut te soek na die
menslik aanvaarbare, sonder dat ons totale menswees daarvan sou
afhang. Daarmee wil ons saam met Luther sê dat ons menswees nie
afhang van die positiewe oordele van ander oor ons strewe na
selfverwesenliking nie, maar dat ons steun op God se finale oordeel
wat genadig en barmhartig is. Ons kan nie staatmaak op die positiewe
oordele van ander nie, aangesien ons as mense faal en misluk. Mense
gaan nie ons verkeerde dinge goedpraat nie. Om hierdie rede moet ons
altyd weer van vooraf begin om te soek na die regte en die goeie.
Gelowiges kan dit juis doen aangesien ons uit dankbaarheid lewe. Die
dankbaarheid vir die verlossing van futiele pogings tot
selfverwesenliking en die afdwing van goeie woorde deur ander, stel
ons in staat om opnuut, daagliks, te gaan dink wat reg en goed sou
kon beteken.
Hoe is
dit moontlik om in hierdie wêreld (en veral in hierdie land) liefde
te beoefen? Christene is vry om liefde te beoefen, aangesien die
oorsprong van hul moraal in die geskenkte vryheid van die geloof lê.
Wat aan ons verkondig word, naamlik die belofte van
regverdigverklaring, stel ons vry om goed en reg in hierdie wêreld
te handel. Goed en reg mond volgens Calvyn uit in menslikheid
en billikheid teenoor ander omdat ons in hulle met die
(verwronge) beeld van God te make het.
|