Van
die redakteur
Dr
Wian Kloppers
skryf
oor die rimpeleffek.
Die
beeld op die voorblad van ’n waterdruppel wat in water val, vang die
betekenis van Epifanie op ’n unieke manier vas. Nee, die metafoor
van iets ‘vasvang’ werk juis nie, omdat die beeld op die voorblad en
wat Epifanie beteken juis alles met beweging te make het! Die
voorbladmetafoor dui dus eerder op die immer bewegende en
veranderlike, betekenisvormende uitkringeffek van wat hierdie tyd
van die Kerkjaar vir ons inhou.
Christus
se geboorte is sekerlik die grootste ‘waterdruppel’ ooit: Die
uitkringende rimpeleffek daarvan het vandag steeds oneindigende
gevolge…
Epifanie
gaan oor die uitwerking van Christus se koms na ons wêreld. Die
rimpels op die water het as ’n klein (dissipel)kringetjie begin,
maar het mettertyd die ganse aarde in beslag geneem. Tot vandag gee
hierdie uitkringende effek in elke nuwe generasie telkens nuwe
betekenis.
Elke
jaar wanneer ons hieroor nadink, gee dit ook aan ons eie lewens nuwe
betekenis. Ons is self soos water waarin hierdie ‘druppel’ geval het
– en die gebeure duur voort. Die uitwerking van die geboorte van die
Kind, Jesus Christus, in mý lewe, neem die res van my lewe in
beslag. Die uitkringende effek maak dat elke jaar se Epifanie ’n
groter impak op my lewe maak. Nuwe insigte kom by; daar is
verdieping in intensiteit en verwagting; betekenis in terme van my
eie lewensvervulling en hoop op die toekoms neem toe.
Mag
hierdie uitgawe meewerk tot verdere verdieping en verryking in
elkeen se geloof, se hoop, se liefde.
Voorblaaie 2012
Die
beelde wat as metafore op hierdie jaar se voorblaaie gebruik word,
het almal met waterdruppels te doen. Water het besondere metaforiese
betekenis omdat dit vloeiend, deursigtig en aanpasbaar is. Dit is
wesenseienskappe wat die metafoor tot verskillende mense in
verskillende situasies kan laat spreek.