Konteks-Bybelvasvra 2012

 

 
 

 

 

Die verhaal van Josef

 

 

Vanjaar handel die Bybelvasvra oor die bekende verhaal van Josef wat ons vroeg-vroeg in die Ou Testament aantref, in Genesis 37 tot 50. In ’n reeks van drie artikels in Konteks (Maart 2012, April 2012 en Mei 2012) kyk dr Wouter van Wyk kortliks na die verhaal en die geskiedenis agter die verhaal om die betekenis van die verhaal beter te kan verstaan.

 

Die drie tekste verskyn hier vir deelnemers se gerief.

 

1

 

Inleidend

 

Die verhaal van Josef is natuurlik deel van ’n groter verhaal wat in Genesis 12 begin met die roeping van Abram. Nadat Genesis 1-11 van die oergeskiedenis vertel het, begin die verhaal van ’n besonderse familie wanneer Abram met sy hele familie uit Haran in Mesopotamië (moderne Turkye) na Kanaän (die gebied tussen die Middellandse See en die Jordaanvallei) trek.

 

Dis ook Jakob se verhaal

Die verhaal van die aartsvaders Abraham, Isak en Jakob strek van Genesis 12 tot 35. Genesis 36 gee inligting oor die familiegeskiedenis van Esau, en dan begin die verhaal van Josef in Genesis 37: 1-2 met die woorde Jakob het in Kanaän gebly, die land waar sy voorvaders ook as vreemdelinge gebly het. Hier volg die familiegeskiedenis van Jakob. Maar dan volg die verhaal van Josef. Jakob speel eers weer ’n groter rol in die verhaal wanneer hy agter Josef aan na Egipte toe trek omdat daar nog kos was te midde van die groot droogte. Die verhale van Jakob en Josef word met mekaar vervleg van Genesis 46 tot 50.

 

Die Josefverhaal is die langste enkele verhaal in Genesis (Gen 37-50). Dit word op twee plekke onderbreek: Genesis 38 vertel die eienaardige verhaal van Juda en sy skoondogter Tamar, wat veroorsaak dat die inhoud van die laaste vers van Genesis 37 in die eerste vers van Genesis 39 herhaal moet word om die verhaal van Josef te bind. Die verhaal word ook in Genesis 49 onderbreek deur ’n poëtiese gedeelte waarin Jakob elkeen van sy 12 seuns seën.

 

Van Kanaän na Egipte

Dit is verder belangrik om raak te sien dat die verhaal van Josef ’n brug bou tussen Kanaän en Egipte. Die aartsvaders, wat oorspronklik van Mesopotamië (die gebied tussen die twee groot riviere, die Tigris en Eufraat) afkomstig is, trek met hulle families en vee na Kanaän waar hulle as vreemdelinge sonder eiendomsreg gaan woon. Die Josefverhaal vertel dan hoe hierdie familie in Egipte beland – waar die volgende groot verhaal begin: die verhaal van die uittog in Eksodus.

 

Terselfdertyd koppel die Josefverhaal die verhaal van ’n familie aan die verhaal van ’n volk. Die verhale oor die aartsvaders is die verhale van ’n familie, terwyl die volgende groot verhaal in die Bybel, die verhaal van die uittog uit Egipte, die verhaal van ’n volk is. Die Josefverhaal bind hierdie twee groot verhale aan mekaar, en maak dit duidelik dat die volk Israel, oor wie se lotgevalle die grootste deel van die Pentateug (die eerste vyf boeke van die Ou Testament) handel, die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob is.

 

Die verhaal van Josef vertel ons van die interaksie tussen verskillende persone: Josef en sy pa, Josef en sy broers, Josef en sy baas Potifar en dié se vrou, Josef en die bakker en skinker in die tronk, Josef en die farao van Egipte, Josef en al die mense wat in Egipte kom kos koop. En op die agtergrond in die verhaal is daar deurgaans Iemand anders: God.

 

Steeds in God se teenwoordigheid

God kom nie self in die verhaal aan die woord nie, en Hy praat nêrens in die verhaal direk met Josef nie (anders as met Abraham, Isak en Jakob). Tog speel Hy ’n deurslaggewende rol in die verhaal. Sy teenwoordigheid bepaal Josef se optrede, sodat Josef byvoorbeeld nie toegee wanneer Potifar se vrou hom wil verlei nie. God stel Josef in staat om die bakker en skinker se drome uit te lê, en ook die farao s’n. Hy seën Josef se werk en gebruik hom tot voordeel van die mense in Egipte, al die mense van ander lande wat kom kos koop, en so ook Josef se eie familie wat uit nood Egipte toe kom om kos te kom koop.

 

Dit is tipies van vertellings in die Ou Testament dat die belangrikste deel van die verhaal in die direkte rede gestel word, en dikwels ook herhaal word. Daarom is die woorde van Genesis 45: 5 ’n sleutel tot die hele verhaal: God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dieselfde verklaring vir die dramatiese verloop van die gebeure word heel aan die einde van die verhaal herhaal wanneer Josef vir sy broers sê: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het (Gen 50: 20).

 

Hiermee word die boodskap van die verteller duidelik: God stuur die lewens van mense om sy doel te verwesenlik. Mense voel dikwels in hulle nood, in hulle diepste krisisuur, van God verlate. Die verhaal van Josef wys dat God ’n mens nie verlaat nie, selfs al verwerp jou naaste familie jou, selfs al beland jy in die tronk. Die verhaal wys ook hoe mense dikwels salig onbewus is daarvan dat hulle instrumente in God se hand is. En selfs al het mense kwade bedoelings, kan God dit tot hulle beswil gebruik. Mense se bedoelings en optrede – goed of kwaad – is nie die laaste woord nie. Die mens wik, maar God beskik.

 

2

 

Die agtergrond van die verhaal

 

Wanneer ons ’n verhaal lees, moet ons altyd onderskei tussen die verhaal en die gebeure waarvan die verhaal vertel. As ons byvoorbeeld FA Venter se Simon van Ciréne lees, moet ons onderskei tussen die verhaal wat hy oor dié Simon vertel, en die historiese gebeure wat die agtergrond van sy verhaal vorm.

 

’n Verhaal word altyd na afloop van die gebeure geskryf, dikwels lank na die gebeure waarvan die verhaal vertel. ’n Verhaal selekteer altyd sekere inligting en laat ander inligting uit, want geen verhaal kan ooit volledig vertel word nie. En enige verhaal word met ’n bepaalde bedoeling en perspektief geskryf.

 

Dit geld nie net vir fiksie nie, maar ook vir geskiedskrywing. Selfs wanneer ons ’n biografie lees, moet ons onthou dat die biografie na afloop van die gebeure geskryf is. Die skrywer selekteer sekere inligting vir insluiting in die biografie, en laat ander inligting uit. Die skrywer se keuses hang saam met sy eie perspektief, met die verwagtinge van sy lesers, en met die doel wat hy wil bereik deur die boek te skryf. Geen verhaal is dus ooit volledig nie, en geen verhaal is volkome objektief nie.

 

Die gebeure

Wanneer ’n mens meer wil weet oor die gebeure waarvan die verhaal vertel, probeer jy gewoonlik soveel onafhanklike bronne moontlik in die hande kry. ’n Mens probeer om ook ander verhale of dokumente te kry wat iets van die gebeure vertel. In die geval van gebeure wat in die verre verlede lê, is dit natuurlik baie moeilik. Daarom soek mense ook na argeologiese inligting: inskripsies op klip en erdewerk, en ook inligting oor ou-ou gebeure wat afgelei kan word uit menslike bewoningspatrone, die ligging, grootte en ontwerp van geboue, baddens, en grafte. Ou voorwerpe wat opgegrawe word, soos gereedskapstukke, kersblakers, erdekruike, pitte en bene en oorblyfsels van kosse, wapens, versierings, ensovoorts, help alles om ’n beter idee te vorm van die mense wat ’n bepaalde plek bewoon het, wat hulle kultuur was, met wie hulle handel gedryf of oorlog gevoer het.

 

Tog bly dit vir ons moeilik om meer inligting oor die agtergrond van Josef en sy familie te kry. Op grond van die Bybelse inligting lyk dit of die aartsvaders (Abraham, Isak en Jakob) rondom die draai na die tweede millennium voor Christus (dit wil sê ongeveer 2000 vC) moes geleef het. Ongelukkig vertel die verhale oor die aartsvaders ons niks van die groot wêreldgebeure van die dag nie, dus kan ons nie die aartsvaders verbind met gebeure waarvan ons ook uit ander bronne meer weet nie. Boonop bestaan daar vandag geen ander antieke verhale oor hierdie figure nie, en is daar ook geen argeologiese inligting oor hul lewens en omswerwinge nie.

 

Dieselfde geld vir Josef. Nêrens in die ou inskripsies, geskrifte, geboue of voorwerpe wat uit ou Egipte behoue gebly het, word melding gemaak van iemand soos Josef (of iemand soos Moses en die Israeliete) nie. Ons beskik dus nie oor meer inligting aangaande die gebeure waarvan die Josefverhaal vertel nie.

 

Al wat ons van daardie tyd weet, is dat daar reeds gevestigde stede was, maar dat groot getalle mense steeds nomadies van plek tot plek geswerf het op soek na kos, water en weiding vir hul vee. Uit buite-Bybelse bronne weet ons dat daar in hierdie tyd groot volkereverskuiwings in die ou Nabye Ooste plaasgevind het. In Mesopotamië het die Amoriete beheer verkry oor baie groot stede. Koning Hammurabi het in die 18de eeu vC koning geword in Babel, en baie van die wette wat hy uitgevaardig het, toon ooreenkomste met die wette wat ons in die Pentateug (eerste vyf boeke van die Ou Testament) kry.

 

Die breë gebied van Siro-Palestina was vir die grootste deel van die tweede millennium vC onder Egiptiese beheer. Vir ongeveer 200 jaar lank is Egipte geregeer deur die Hyksos, mense wat oorspronklik self uit Siro-Palestina afkomstig was. Aangesien Egipte en Siro-Palestina egter steeds in dieselfde magsgebied geval het, het daar relatiewe vrede geheers.

 

Onder sulke omstandighede was dit dus moontlik dat groot groepe nomades binne die gebied kon rondtrek sonder dat dit grootskaalse politieke konflik veroorsaak het. Die verhale oor die aartsvaders en Josef pas by hierdie prentjie in, want Jakob en sy familie kon oënskynlik ongehinderd van een gebied na ’n ander trek.

 

Die ontstaan van die Josefverhaal

Ongelukkig weet ons ook redelik min oor die ontstaan van die Josefverhaal. Vroeër het geleerdes gedink die verhaal is saamgestel uit verskillende bronne, en dat dit tydens die regeringstyd van Salomo (10de eeu vC) geskryf is. Deesdae dink geleerdes dat die verhaal nie voor die Babiloniese ballingskap geskryf kon wees nie, en dat dit eerder uit die Persiese tyd (6de tot 4de eeu vC) of selfs uit die Grieks-Hellenistiese tyd daarna (4de tot 2de eeu vC) dateer. Hulle wys veral op die ooreenkomste met die verhaal van Daniël, omdat Daniël ook ’n belangrike pos in die hof van ’n vreemde koning beklee het nadat hy met God se hulp die koning se drome uitgelê het.

 

Wanneer ook al die Josefverhaal op skrif gestel is, dit is in elk geval duidelik dat die verhaal baie eeue na die gebeure geskryf is. Dalk is dit belangriker om te onthou dat dit nooit die bedoeling van die skrywers van die Ou Testament (of die Josefverhaal) was om die geskiedenis vir latere lesers akkuraat op te teken nie. Die bedoeling van die verhale was eerder om oor God se werk in die lewens van mense te getuig. Hieroor praat ons meer in die volgende artikel.

 

3

 

Die betekenis van die verhaal

 

’n Groot deel van die Ou Testament bestaan uit verhale. Verhale dra op ’n ander manier betekenis as ander soorte literatuur soos wysheidsliteratuur, wetsmateriaal of profetiese literatuur. Verhale gee nie uitdruklik vir die leser raad oor die regte of verkeerde optrede nie, dit bied nie voorskrifte nie, en dit waarsku nie teen die gevolge van verkeerde optrede nie. ’n Verhaal kry betekenis in die lewe van die lesers as hulle met die karakters en waardes daarin identifiseer.

 

Natuurlik is daar maniere waarop ’n verhaal probeer om bepaalde waardes aan sy lesers oor te dra: Slegs sekere feite of gebeure word geselekteer en in ’n bepaalde verband met mekaar geplaas, die woorde en optrede van verskillende karakters word met mekaar gekontrasteer, die verloop van die verhaal wys sekere optrede uit as reg of verkeerd, en belangrike perspektiewe op die gebeure word op sleutelmomente in die verhaal gestel (dikwels in die mond van belangrike karakters).

 

Maar dis nie so maklik om sommer te sê Dís die betekenis van die verhaal nie. Daarom probeer ons in hierdie kort artikel net om ’n paar belangrike aspekte in die verhaal van Josef uit te lig in die hoop dat gelowiges ook in hul eie lewens daarmee kan identifiseer.

 

Deel van ’n groter verhaal

In die eerste plek bly dit belangrik om te onthou dat die verhaal van Josef deel is van die groter verhaal wat in Genesis 12 begin met die roeping van Abram, en wat eintlik regdeur die Pentateug voortgesit word tot met die intog in die beloofde land waarvan Josua en Rigters vertel. Die verhaal van Josef funksioneer soos 'n episode binne die breër verhaal om te bevestig dat God betroubaar is. Hy bly getrou aan sy beloftes, Hy laat inderdaad die aartsvader Abraham se nageslag aangroei tot ’n volk, en Hy gee uiteindelik aan hulle die land wat hy aan Abraham beloof het (vgl Gen 12).

 

Swaarkry is deel van ons lewe

In die tweede plek wys die verhaal van Josef dat gelowiges ook dikwels swaarkry. Soos Abraham ’n swerwer moes word en Jakob jare lank vir Laban moes dien om met Lea en Ragel te mag trou, is Josef onskuldig as slaaf verkoop, belaster en vals beskuldig, en uiteindelik in die tronk gestop. Die lewe is nie regverdig nie, en gelowiges se lewenspaadjies is nie altyd maklik of voorspoedig nie.

 

Tog laat God selfs slegte dinge tot mense se beswil meewerk (vgl ook die interpretasie van die Josefverhaal in Ps 105: 16-22). God laat die werk van sy hande nooit vaar nie, selfs al is Hy nie opsigtelik aanwesig in die daaglikse wel en wee van sy kinders nie. Josef beleef groot hartseer wanneer sy ouer broers hom spot, verwerp, wil doodmaak en uiteindelik aan handelaars verkoop. Hy word ’n bediende in die Egiptenaar Potifar se huis, en tog betoon die Here selfs hier aan hom genade sodat hy sukses behaal en met groot verantwoordelikheid beloon word. Dan volg die vals beskuldigings van Potifar se vrou, en Josef beland in die tronk. Maar selfs in die tronk seën die Here vir Josef, en help die Here hom om die drome van die skinker en die bakker uit te lê. Hoewel die skinker aanvanklik van Josef vergeet, bewerk God uiteindelik die geleentheid dat Josef ook die farao se drome uitlê en tot onderkoning oor Egipte aangestel word. Die verhaal bevestig die boodskap dat God die werk van sy hande nooit laat vaar nie ook in die lewens van Jakob en Josef se broers – ook hulle beleef ten spyte van baie swaarkry, bekommernis en vernedering dat God hul lewenspad tot hul beswil rig en stuur.

 

In God se hand en plan

Verder wys die verhaal van Josef hoe God mense gebruik selfs sonder dat hulle só oor hul eie besluite en optrede dink. Josef se broers word deur jaloesie gedryf om hom aan reisende handelaars te verkoop, maar so werk hulle onwetend daaraan mee dat Josef uiteindelik in Egipte vir sy hele familie ’n heenkome kan bied wanneer hongersnood hul land teister. Dieselfde is waar van Potifar se vrou wat deur haar selfsugtige wellus en vernedering gedryf word om Josef vals te beskuldig, maar so onwetend verseker dat Josef eers die skinker en later die farao se drome kan uitlê.

 

Hierdie boodskap word in Genesis 45: 5 uitdruklik verwoord wanneer Josef sy ware identiteit aan sy broers bekendmaak en vir hulle sê: God het my voor julle uit gestuur om lewens te red. Dit word heel aan die einde van die verhaal bevestig en benadruk wanneer Josef vir hulle sê: Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ’n groot volk nou in die lewe gebly het (Gen 50: 20). God verwesenlik sy doel met mense se lewens ondanks hul eie bedoelings (wat heel dikwels selfs kwaadwillig is).

 

Reg of verkeerd?

Die verhaal van Josef veroordeel nie uitdruklik verkeerde optrede nie. Die negatiewe uitwerking van mense se verkeerde optrede blyk egter telkens: Josef se aanstellerigheid lei tot sy broers se liefdelose wraak wanneer hulle hom as slaaf verkoop, die vals beskuldigings van Potifar se vrou laat Josef in die tronk beland al is hy juis onskuldig, die optrede van Josef se broers boemerang op hulself wanneer hulle in Egipte kom kos koop. Tog toon die verhaal hoe ’n gelowige sulke omstandighede te bowe kan kom deur juis altyd beginselvas te bly optree. Die antwoord op onreg is nie vergelding nie, maar konsekwente beginselvaste optrede. God verwag te alle tye van ons verantwoordelike optrede in ons verhoudings met ander mense.

 

Laastens wys die verhaal op subtiele maniere hoe God dikwels menslike voorkeure omkeer. Josef, die tweede jongste seun en bedorwe brokkie, word uiteindelik die een wat vir Jakob se ander seuns sorg. In Genesis 48 seën Jakob vir Efraim (Josef se jongste) bo Manasse (Josef se eersgeborene), en in Genesis 49 gee hy voorkeur aan Juda en Josef terwyl hy Ruben (sy eersgeborene) verneder en Simeon en Levi ’n ereplek in Israel ontsê. Hierdie is ’n baie algemene tema in die Ou Testament en die Bybel. Bybellesers word telkens daaraan herinner dat mense se maatstawwe nie God se maatstawwe is nie. En uiteindelik is dit God wat die lotgevalle van mense en volkere bepaal.

 

Hiermee is slegs ’n paar aspekte van die Josefverhaal uitgelig. Die verhaal vra telkens van sy lesers om self weer te soek na betekenis, en om as gelowiges te identifiseer met die waardes van die verhaal. Want deur hierdie Bybelse verhaal wil God ook die gang van elke latere leser se lewe rig en lei.